Hulp en hoop is die gemeente se arm wat uitreik na die gemeenskap waar ons geplaas is!

Die pynlike realiteit is dat daar soveel mense aan die Wesrand is wat finansieël swaar trek, wat honger gaan slaap en op een of ander wyse beskadig is deur die lewe. Constantiakruin-gemeente voel haarself geroep om op praktiese maniere nood te verlig en hoop te bied.

Indien jy by enige van die onderstaande projekte betrokke wil word, skakel gerus vir Thys de Villiers op 083 287 8370 of Louis van Huysteen op 066 217 0973

Hulp en Hoop Stoor

Die gemeente koop maandeliks ’n hele aantal kos-en-negosieware aan sodat ons kospakkies kan skep vir gesinne in nood. Persone wat swaar trek kan aansoek doen en word geregistreer om maandeliks ’n kospakkie te ontvang. Op Maandae is die Hulp en Hoop stoor oop en dan kan diegene wat geregistreerd is hul kospakkies kom afhaal.

Mediese Stoor

Lidmate sit dikwels met mediese aparate wat hulle nie meer nodig het nie. Hulle skenk dit aan die kerk, en hou leen dit uit volgens mense se behoeftes: soms is dit ’n rolstoel vir ’n kort tydjie, of ’n comode vir ’n senior persoon.

Ons eie Sopkombuis

Een keer per maand berei ons kos voor vir die persone wat op Maandae kom vra vir hul kospakkies. Hierdie is ’n heerlike warm maaltyd wat met liefde voorberei is.

Grace House

Grace House is ’n onafhanklike S.O.S. huis waar enkelouers soms ’n toevlug kan vind wat dringend hulp nodig het. Ons is betrokke by hulle dmv skenkings soos wat hul behoeftes mag ontwikkel.

Toevlugsoord 911

Hierdie Toevlugsoord is ’n skuiling in Newlands waar ons as gemeente betrokke is deur dikwels klere te verskaf, breekware aan te gee en kos te voorsien.

Fred en Martie se Sopkombuis.

Hierdie Sopkombuis is in Claremont geleë en ons gemeente is al vir baie jare verbind aan hulle. Ons gee maandeliks kosvoorrade sodat hierdie bediening kan voortgaan.

Roodepark Skool

Daar is heelwat kinders in Roodepark skool wat uit minder-gegoede buurtes uitkom en letterlik honger by die skool opdaag. Ons gemeente skenk kosvoorrade op ’n maandleikse basis, sodat die skool ’n lang lys van kinders kan voed.

Gateway Skool

Net soos bogenoemde, is daar ook kinders in Gateway skool waar die huisgesinne nie die kinders na behore kan voed nie. Ook hier voorsien die gemeente kosvoorrade en ook kospakkies vir gesinne.

Sunrise Kleuterskool Kagiso

Hierdie kleuterskool is deur die gemeente geïnisieer omdat ons sterk glo in ECD (Early Childhood Development). Hier is 65 kinders wat daagliks ontbyt en middagete ontvang. Rondom kerstyd ontvang hulle elkeen geskenkies en kospakkies.

Horison Laerskool Broodjie-projek

Daar is ’n hele aantal kinders by Horison Laerskool wat nie die dag met ’n vol maag kan begin nie, en by die skool broodjies ontvang. Ons het ’n aantal vrywilligers wat een week per maand instaan om hierdie broodjies voor te berei sodat hierdie kinders nie honger hoef te bly nie.